Jacobus Kloppers - Tussenruimte/ In-Between-Ness/ Afrikaans

Voorwoord

Wanneer ’n kunstenaar se werk ge-evalueer word, glo ek dat dit van kritieke belang is dat dit aan bepaalde kriteria gemeet word

Eerstens moet die kunstenaar homself/haarself onderskei as meester van die meduim waarin hy/sy werk. Hierdie meesterlike aanslag moet ook geld ten opsigte van die tegniese aspekte wat die sukses van enige kunswerk bepaal – komposisie, balans, kleur-gebruik en tekstuur, om die mees voor die hand liggende aspekte te noem. Hierdie vaardighede word gewoonlik bemeester deur toe-gewyde studie, opleiding en oefening, asook die ontwikkeling van ’n unieke styl en aanslag met betrekking tot ’n spesifieke onderwerp.

Tweedens moet die oorspronklikheid en eerlikheid van enige werk bo verdenking staan, sodat die “siel” wat dit vereis om suksesvol te kan kommunikeer, verseker kan word. Enige truuks, kortpaaie of pretensies sal onwillekeurig hierdie essensiële primêre kwaliteit ruïneer.

Derdens is die deurslaggewende toets vir enige outentieke kunswerk die vermoë om die toets van tyd te weerstaan en modes en giere te oorleef. Dit is slegs moontlik as die inhoud van die werk suiwer en goed geformuleerd vasgelê is deur toegewyde fokus op die uiteindelike stemming of boodskap wat die kunstenaar wil oordra.

Gedurende die afgelope vyf jaar het ek die geleentheid gehad om Jacobus en sy werk te leer ken, en is van mening dat sy werk ongetwyfeld aan hierdie kriteria voldoen. Sy toewyding tot sy kuns, en die oorgawe waarmee hy die kwaliteit en inhoud van sy werk, asook die ontwikkeling daarvan, benader, is hoogs inspirerend.

Die oorkoepelende kwaliteit van sy werk manifesteer in die feit dat die kunswerke nie net esteties bevredigend is nie, maar ook oor ’n rykdom van metaforiese en filosofiese inhoud beskik wanneer dit bestudeer en ontleed word.

As kunshandelaar is dit my voorreg om mede-kunsliefhebbers die geleentheid te bied om Jacobus Kloppers se kuns te ontdek en te verken. Dit behoort hulle ook te lei na sy “sonderlinge” plekke waar hulle in die “tussenruimtes” hulself geestelik kan verryk en met hernieude lewenswysheid kan terugkyk na die ervaring.

Johans Borman
KAAPSTAD
September 1999

Habitasie

My werk is hoofsaaklik gemoeid met landskap. Tog is ek geïnteresseerd in meer as die voorstelling van ’n deel van die natuur of ’n natuurlike fenomeen. My werk gaan nie net oor die illustratiewe vertolking van die land of menslike aktiwiteite in die landskap nie, maar oor hoe elemente in die landskap kan dien as metafore vir menslike ervaring van, en interaksie met, ’n plek of terrein.

Gedurende die vroeë 1990’s is aspekte van (hoofsaaklik) die Karoo wat menslike bewoning verteenwoordig, in my skilderye ondersoek. Dit het ingesluit heinings, hekke, vure, klimhekke, watertrogge, voertrogge, opgaartenks en takkrale. Dit dien as onderwerpe vir die verbeelding. Dit word uitgebeeld as meer as net die “konkrete” - ook as metafore vir die kulturele “merk”, met ander woorde, die merke wat die kunstenaar teken, krap of verf. Ten opsigte van inhoud kan hierdie metafore vertolk word op ’n eksistensïele vlak, verteenwoordigend van temas soos byvoorbeeld grond-liggende godsdienstige ervaring en menslike interaksie met die elemente, maar ook op ’n vlak van historiese ervaring ten opsigte van temas soos kulturele identiteit, gebieds- identiteit en sosiale verandering. Om hierdie elemente uit te beeld sodat dit buite die raamwerk van die tradisionele illustratiewe landskap kan dien, het ek spesifieke tegnieke ingespan: die vierkantige formaat, die voëlperspektief, die laat van spore van die proses, soos komposisielyne, merke aan die kante en deur die objek in die middel te plaas, met sentrerende aanwysings rondom sigbaar. Ek noem hierdie werke oop metafore en hoop die kyker lees dit ook so. Hierdie was werke in gemengde mediums op papier, asook olie op doek.

Gedurende hierdie periode het ek soms gevonde voorwerpe ingesluit, as ’n installasie in ’n tentoonstelling. Die voorbeeld hieronder was deel van ’n tentoonstelling gedurende die Grahamstadse Kunstefees in 1995.

Sedert 1997 fokus ek in hierdie Karoo-werke op die plaasdam (sink en sement). Die formaat is nog steeds vierkantig met die dam afgesny aan die onderkant en aan die een kant. Die rand word ’n grenslyn tussen water en veld, vol en leeg, of nat en droog. Inhoudelik verwys dit na kwessies soos oorlewing en gebiedsbesit (hartland, erfgrond, kultivering) en vandaar titels soos “vont” (doopvont).

Die dam figureer ook in ’n installasie vir die !Xoe “Site Specific projek in Nieu Bethesda 1998. “Die beeld van ’n opgaardam uit sinkplaat ontlok die Bybelse teks van Johannes V: 1 -15, en word die sentrum van sy ingryping op die plek. Hierdie verhaal reik na die oorsprong van die naam Bethesda en praat van persoonlike verantwoordelikheid teenoor geloof en heling. Toe die 1000 liter opgaardam gevul is met water uit ’n leisloot deur ’n ry kunstenaars, toeriste en plaaslike werkers, het dit na ’n gewyde daad gelyk. Die opgerolde bed van die Bybelse invalide, waaraan hy vir 38 jaar gebonde was, manifesteer as ’n opgerolde heining vanaf ’n plaas in die omgewing. Hierdie was visuele aanwysings na die kruispunt tussen die geskiedenis van ’n plek en die naamgewing van geskiedenis.”

(Uittreksel uit katalogus van !Xoe)

Deurgang

Gedurende ’n reis na die Karoo en die Richtersveld in die winter van 1996, het ek afgekom op die idee van die reis self as motief. Die pad, die mees ooglopende mensgemaakte afdruk op die landskap, kan gesien word as ’n plek in sigself, ’n plek in en van oorgang.

Gedurende hierdie reis in die Richtersveld, het ek ’n plekgebonde kunswerk geïnstalleer. Twee ryeplaaslike wit klippe is dwarsoor die donkerrooi “misvloer” van ’n “bokkraal” (gebruik deur die plaaslike nomadiese boere) gepak om ’n deurgang te skep waar plek, reis en bestemming een word.

Vroeër dieselfde jaar, gedurende ’n kort besoek aan Europa, het ek van die werk van die Duitse kunstenaar Anselm Kiefer van nader gesien. Sy werk het ’n direkte impak gemaak op my idees oor die “landskap”. Dit het gewys hoe die landskap kan dien as ’n gebied waarbinne en waarop die soeke na spiritualiteit hulself kan uitspeel deur die gebruik van tekens, simbole en geskiedkundige verwysings.

Sedert 1997 het my fokus verskuif na die proses van ondersoek na inskripsies op, en elemente in, die landskap. Ek het begin om die video-kamera te gebruik om my reis deur ruimte en tyd te dokumenteer.
Die pad en verwante objekte, soos padtekens, mylstene, kaarte, ensovoorts, het die onderwerp vir metafoor geword.

Die kontras tussen ’n dik, tasbare en skilderkunstige tegniek, en ’n kortstondige elektroniese beeld met sy telefoto-verwringings, wasigheid, kleurvloei en elektriese lig, het ’n metafoor geword vir die onmoontlikheid om tyd vas te vang of om “deurgang” self te begryp.

Die pad, die oomblik gevries in ’n raam, word die reis. Dit word ’n nimmereindigende uitnodiging self, die ruimte tussen verlede en toekoms, die bekende en die onbekende, die kreatiewe gebeurtenis. Dit kan voorts ook die soeke na ’n begrip van spiritualiteit, identiteit en behorende tot ’n gebied aandui.

Dalk is dit ook die groot ontsnapping aan die verskrikkings van die geskiedenis - die uiteindelike, maar ontwykende bestemming wat nooit werklik bereik word nie en dus nooit werklik begryp word nie.

In hierdie werke het ek die reghoekige, en soms die “pana-vision” formaat gebruik om te dui op hierdie verskuiwende en toevallige eienskappe.

Op ’n tentoonstelling by die Oudtshoorn Kunstefees in 1998, het ek ’n volledige topografiese kaart van Suid-Afrika, in die vorm van ’n kruis (soos om met ’n kruis aan te dui), op die vloer geïnstalleer. ’n Klein spieel, met ’n opening of venster in die vorm van ’n kruis, is op vier wiele bo-op die kaart gemonteer, en kon oor die kaart geskuif word. Mense is genooi om plekke wat vir hulle van belang is, te vind deur deur die opening te kyk. Nie net kon hulle die aanduidings op die kaart sien nie, maar ook ’n refleksie van hulself.

In my mees onlangse werk gebruik ek werklike padtekens as objekte waarop ek tonele van die pad skilder.

Ek het ook begin om werklike en verweerde stukke teerpad te gebruik as oppervlaktes om op te werk, maar ook as objekte self. Hierdie oppervlaktes, met hul voue, krapmerke, rante en teksture verwys na getuienisse en ondervindinge van “reise”, asook die “enkelplek”.

In hierdie werk oor die non-plek probeer ek om die toeskouer te dwing tot ’n ervaring van ’n moment, eerder as ’n ervaring van ’n plek. Die toeskouer dink nie - daarom is hy of sy nêrens nie, maar orals.

Jacobus Kloppers

Tekens van die pad

Diaspora is ons verhouding tot plekke waartoe ons in ons verbeelding behoort; dis die geskiedenis en bevraagtekening van die pad en sy bewussyn van plek; dis die pad wat hunker na sy landskap.

Plek

Hier, in hierdie plek, dwaal die oog. Maar alles is nie hier nie! Wat is dit dan, hierdie plek tussenin, hierdie kwessie van die pad?

Tussen hierdie tekens wat daarop sinspeel dat die pad ’n plek is, wil ons dalk vra: “Wat is plek dan self?” Die vraag hang binne landskap, ongemaklik, maar ons dink daaroor wanneer die kunstenaar plek as tegelyk afwesig en bevestig wys. En deur die pad self die oënskynlike onderwerp te maak.

Padtekens en stilhouplekke is soos bakens - dit dui op die spesifieke. Maar nie die pad self nie, sy oppervlak bied te min, en is te saai en eentonig om as uitspanplek te dien. Die klofies is te vlak en die voue te nou. Deur die blik verklaar die oppervlak, met sy reaksielose teenwoordigheid, sy plek, indien hoegenaamd ’n plek. Hierdie oënskynlike plek van plekke is dus plek-as-verhoog, en nie plek self nie.

Teenwoordigheid

Hangend in ’n vervlietende oomblik, in die skadu van tyd, kry ons grepies van ’n voller wêreld waaroor dit dalk nie nodig is om te vra waarna dit verwys nie. Maar die gegewes hier is te min, en lei tot ’n skrapse bewussyn van plek. Dit is soos gebeurtenis weggekeer van sy konteks, en nou is albei sprakeloos. Spore van belewenisse, verlore en gevonde aanwysings en gebeure vervaag wanneer vorm plek maak vir terrein, en plek vir landskap.

Dit is juis hierdie uitdaging van hoe die huidige daar uitsien, wat die onderwerp hier blyk te wees. Daarom is dit nie verbasend nie dat dit waaruit die pad bestaan, die tasbare, die teer self, pure abstraksie word. En dit is hier waar die kunstenaar onderwerp, teenwoordige en wegglipping vind.

In die greep van die momentele vervaag die belofte wat ’n gegewe plek bied ten opsigte van dink en voel. Hierdie karaktertrekke van die kyk-moment, waarin iets óf die een óf die ander kan wees, blyk skimme te wees in die betekenis-moment.

Maar dit ondermyn gesonde verstand, die vanself sprekendheid van die teenwoordige, asook ’n rykdom van betekenisse. Waarom hierdie beelde só tot ons spreek, is omdat dit ’n uitdaging is van wat ons dink ons weet. Nou word die teenswoordige, soos dit homself in sy alledaagsheid openbaar, kortstondig, eens gewees, of nog aan die kom. Die struikelblok is dat die teenwoordige slegs ’n vlugtige blik is, en nie vasvang nie.

Gevind

Opmerklik soos dit is, is hierdie ontkenning en miskenning van tyd en plek, met hul eerbiediging van geleefde lewens en plekke van rus en hunkering, té vrugbaar om as neutraliteit of afsydigheid beskou te word. Inderdaad bly hierdie skramse blik nie on-geroerd nie, en begin dit soek. Maar wat word gevind?

Om gehoor te gee aan wat voorkom as ’n ooglopende en ’n inherente bewussyn van plek, erken die kunstenaar dit wat reeds daar was, voordat hy betekenisvolle afbakenings kan maak. Lewensgetrou word die glipse van die lens, die inbreuk wat die raamgrense maak, die vreemdheid van die skerm, vasgelê. Inderdaad word dit binne hierdie konteks gewys, nie as ’n bekoorlike ongeluk of die kunstenaar se begeestering nie, maar as juis dit, die waargeneemde wêreld. Voorgestel asof om te sê “Laat dit wat so verskyn, ook so gewys word ” ,en laat dit dien om op die spel van vind-en-skep te wys. En juis binne die feitelikheid van dit wat daar is, eerder as in die semantiek van die mooie, of die prentmatige, probeer die kunstenaar ’n poort vind. Natuurlik kan hy nie, maar probeer sal hy beslis.

Maar in hierdie spel vind ons egter nie die kunstenaar daar nie, maar bevind ons onsself binne plek. Wat daar is, met sy eienskappe van tyd en plek vir eers ter syde, is nie uitsonderlik nie en ook nie juis ryk aan betekenis nie, buiten die vanselfsprekende, soos wanneer pad “reis” beteken. Dit wat anderkant die sigbare lê, word nie geskep uit wat ons wel sien, of nie sien nie, maar wel deur die kykproses. Nou is dit ons, en nie die landskap nie, wat die teenwoordige skep. Dit is nie die kunstenaar se oë nie, maar ons s’n wat betekenistoekenning opeis, wat plek skep en ons laat worstel met wat teenwoordig is. Ons en ons wese word genoop om te sien. Dit is teater, die beeld wat deur kyk geskep word. Deur hierdie toetrede kan ons sê word dit wat eens beeld geblyk het, maar nog nie werklik daar was nie omdat dit buite die kunstenaar gelê het om te voltooi, voltrek en bevestig.

Binne hierdie vermenslikende landskap word horison hoop, word tekens vertellend en begin plekke te boei, terwyl gissinge oor die afwesigheid van betekenis ’n nuttelose tydverdryf word. Hier begin ons te sien, en te weet. Nou word die ekstase van die teenwoordige verweef met strewe en die talmende oomblik. Teer is nou Melkweg. En word God geopenbaar, lig vasgevang in die huiwering van die spieël. Gespan iewers tussen die bestaande en ver - lore landskap.

En telkens word die tekens en aanwysings verander en aangepas, maar elk sonder sy sekerhede, asof om te sê: dalk. En, betower deur die pad, weet ons ten minste dat ons hier is, maar moet ons dalk byvoeg dat ons nie presies weet waar nie.

Kevin Kelly

To view the work exhibited click here
Return to Jacobus Kloppers’ current page
Engels teks
Afrikaans text

Leave a comment

(will not be published)
(optional)
Remember Me
Subscribe to Updates